Monday, June 27, 2011

Stêrre in jou oë

Wys vir my die stêrre in jou oë
die sagte kartel van jou mond
bid vir my vir wysheid van daarbo
en plak daarna ‘n pleister op my wond.

Wys vir my die paaie na jou hart
die stille werklikheid van jou
gee vir my ‘n lig, ek is verward
en rotse om ons huisie mee te bou.

Speel vir my ‘n song wat jou beskryf
die magic klanke van jou siel
wys vir my die ritme van jou lyf
en littekens waar gister jou verniel.

Stuur vir my ‘n boodskap op my foon
die suiwer pêrels van jou drang
deel met my die kern van jou persoon
en fluister vir my waarvoor is jy bang.

Wys vir my die stêrre in jou oë
die beeldskoon oomblikke van jou
gee vir my ‘n rede om te glo
en dalk ‘n vrou soos jy om vas te hou.


Maanligserenade

Op mistige aande soos nou
as die winter sy weg vind na my
dwaal my gedagtes weereens na jou
en die sunsets waarin ons wegry.

Met maanligvrouens soos jy
as ek alles weer oor sou kon doen
sou ek virewig joune wou bly
en jou vashou en liefkoos en soen.

In droomlandnagte soos dit
as ons môres weer gisters sou wees
maak ons movies in swart en in wit
en mem'ries wat jy boeke van lees.

Op pikswart aande soos nou
as die muse my roep en ek hoor
draai my bui na die donkerste blou
en 'n naglied om jou te bekoor.

Met trane wat opwel soos dou
as ek verse sou skryf in die nag
doen ek dit want ek weet ek sou wou
met jou wees elke uur van die dag.

In die hart van jou wese soos lig
as jou oë vir my kyk in die reen
in die maanskyn sien ek jou gesig
en die donker verdwyn om my heen.


As die einde kom

As die winter om ons koud word
wens ek jy is saam met my
sodat ons twee saam kan oud word
en die onheil kan bestry.

As my uurglas eendag leegloop
hoop ek jy is aan my sy
in my oomblikke van wanhoop
dink net elke dag aan my.

As die veerman my kom oplaai
staan aan wal en soen my sag
totdat ek vir oulaas t’rugwaai
en jou opsoek in die nag.

As die einde vir jou aanbreek
wees gerus want ek is daar
aan die anderkant se dagbreek
wag ek tot ek jou gewaar.


Klara

En as die einde van die wereld rerig kom
dat jy die een sal wees wat ek mee wag
vir nuwe horisonne in die somerson
en jy my hand neem in die donker nag.

Ek is banger as wat jy enigsins sou dink
dat jy my hier sal los waar ek alleen
in die stormsee ronddryf sonder om te sink
en daarna wegkwyn in die winterreën.


Nina Simone

As ons saam kon reis en vergeet kon word iewers ver van hierdie plek
en weg kon gaan na planete waar die son in die middernag skyn
of saam kon kniel voor die heiliges in 'n middeleeuse kerk
of hubblies stook in 'n straatkafee en in die rook van die nag verdwyn.

As ons saam kon vlieg oor bergpieke heen op 'n koue winterdag
op tapyte reis met die hand geweef deur 'n wyse man van Mars
of tydloos sweef oor die landsgrense van 'n wêreld wat nooit lag
of oopmondsoen in 'n ruimtetuig wat deur die klankgrens bars.

As ons saam kon wees in Jerusalem toe Johannes daaroor skryf
en die laaste basiun in ons ore skree terwyl Jesus iets wil sê
of die antichris in my slaap verskyn en my met haar lyf verlei
of ons hande vat toe die bomme val en die skrapnel om ons lê.

As ons saam kon stap op die kronkelpad waar die spoke ons aanstaar
en by 'n halfweghuis vir jou roomys koop om op te maak vir my bui
of 'n ruiter volg in die nanag in na 'n kerkhof in De Aar
of ek sien jou loop met jou skouersak in die gang toe die skoolklok lui.

Sou ek weer wou drink uit die liefdesfles van ons jeug se verdwyn in die nag
en jou hand vashou by 'n skoolparty en en jou soen op 'n 80s song
of jou warm vry in my eerste kar of so saam-saam sit en lag
of ek aan jou dink en parfuum gaan koop by 'n duty free in Hong Kong.

Sou ek terug wou keer en jou liefde gee op die maat van Nina Simone
en jou stories vertel van 'n wereld van hoop waarheen ons sou kon gaan as ons wou
of deur albums blaai met fotos van ons en ons mem'ries in sepiatone
of jou styf vashou as die winter kom en jou oortuig dat ek van jou hou.

Sou jy weer wegdraai met jou oë soos ys en dronk word op die maan
en ek jou gaan soek op die stofpaaie aan die gatkant van die Kaap
of jou siel verkoop aan die duiwel self omdat jy my nie verstaan
of my lewe neem soos jy nog steeds doen elke aand as jy lê en slap
.
Sou my wêreld stop want jy't als geroof wat jy kon uit die stof van my gees
en jou hart word koud soos 'n dooie mens wat nie weet wie sy is voor 'n spieël
of jou siel verdor op jou huistoepad na 'n plek waar jy altyd sal wees
of jy ooit nog bid voor God in berou en of jy weer voor hom sou kniel.


Maanligvrou
Stap met my deur parke in die nag
sommer met jou sandals op die gras
sodat ek jou magic kan bewonder as jy lag
en jou onverwags met blomme kan verras.

Wys my wie jy is en wat jy doen
sommer net omdat ek jou wil ken
sodat ek daar kan wees om jou vas te hou en soen
en jou kan toegooi met poems uit my pen.

Sweef met my na stêrrestelsels heen
sommer in my warmlugballon
sodat ek jou sagte hand kan vashou in die reen
en drukkies vir jou gee op my balkon.

Stuur vir my 'n foto van jou lyf
sommer as ek skielik jou wou vind
sodat ek jou lyne in die laataand kan beskryf
en jy my siel kan wegneem in die wind.

Dans met my in gange van kastele
sommer ook op strande in die mis
sodat jy geskilder word met butlers en sambrele
en daar 'n Vettriano van jou is.

En as ek Leonard Cohen was
was ek 'n sneeuman net vir jou
en as ek iemand anders was
sou ek baie van jou hou
en as ek net Mellie was
was jy elke aand my maanligvrou.

Ek sou goud en silwer vir jou aandra
en bottels vol parfuum
en soms, net soms jou hand vra
dit styf vashou
aanbied om jou las te dra
my hart vir jou gee as jy wou.


Verborge rapsodie

Miskien as daar eendag geen meer afstand tussen ons is nie
en die spore van ons lewens soos die sterre en die maan
skyn op al ons klowe en die paaie wat ons gaan
soos die getye van die heelal se verborge rapsodie.

Mag die horisonne skuins lê tot die uurglas ophou loop
vir die kinders op die stofpad wat 'n ekstra uur kom vra
by die gode van die liefde en die weerwolwe wat kla
dat die hartseer in jou oë ontvou in hierdie nag van hoop.

Miskien is dit die afwagting of miskien die misterie
van die wete dat dit jy kan wees wat die ander helfte is
in die legkaart van my lewe en die donderstorms sus
soos die skille aanhou afkom in 'n verborge rapsodie.

Mag die liefdeslote uitloop in die movie wat ons maak
en die einde van die storie soos die strande om ons heen
wit wees in die oggendson en vasdans in die reen
met memories van aanhou lag en engele wat waak.

Miskien het jy lank reeds al gaan slaap terwyl ek aan jou dink
dan kruip ek in jou drome in en word 'n ridder net vir jou
wat saam met jou die pad afloop en glinster in jou oggenddou
en oud word in jou skemerkelk en die rooiwyn wat ons drink.

Mag dit waar word wat jy droom my lief, maar net as dit my raak
want ek het na jou gekoester in my verborge rapsodie
ek weet nie maar ek wonder net oor hierdie nostalgie
en ek weet ek wil die een wees wat slaaptyd oor jou waak.

Miskien is daar 'n song wat my steeds herinner aan jou kyk
ek het als gegee, en als verloor, en dit teruggewen vir jou
ek het vergeet, maar soms soos nou kom skielik die berou
dit was als die moeite werd, al het jou liefde my ontwyk.

Mag dit nooit van ons gesê word dat ons nie probeer het nie
die paaie van ons harte, die seisoene kom en gaan
lê rond in al die bouvalle van ons trotse voortbestaan
grafte in die voortuin, hand aan hand, verborge rapsodie.


Helena

Ek verlang vanaand soveel na jou
jy wat my hart se lied verstaan
my donderweer en my donkerblou
my yswind en my sekelmaan.

Ek droom onbewus nog steeds van jou
jy was die blom in my seisoen
my wolkombers in die winterkou
my stokperdjie om saam te doen.

Ek soek vandag na 'n spoor van jou
jy was die song wat alles sê
my stem wat roep in die oggenddou
my rusplek waar daar vrede lê.

Ek kyk nog steeds na 'n stêr vir jou
jy was my hemelruim gewees
my nagtegaal wat ek steeds onthou
my hartseer hart wou nie genees.

Ek dink somtyds aan my pad met jou
jy wat my aandlied laat weerklink
my fleur-de-lys het toegevou
my liefde het in jou verdrink.


Jasmyne in Oktobermaand

Mag ons die ritme vind vanaand
van naggeluide vêr van hier
Jasmyne in Oktobermaand
ek volg jou soos 'n wilde dier.

Aan die anderkant van more
as die sekelmaan sy hoed opsit
die nag stil word soos tevore
en geeste neem van ons besit.

In Zanzibar se ryp klimaat
waar ons twee eens kon wees
in New York in 'n arm straat
word ek oorval van vrees.

Ek wens vanaand ons was weer daar
op plekke waar ons spore lê
ons lewenspaaie uitmekaar
ons harte wat die woorde sê.


Stella

Vroegherfs in Pretoria
en my gedagtes maal
van onheil tot euforia
van dinamiet tot staal.

Ek voel die winter kom weer
my wêreld word weer vaal
my ongekende hartseer
is volgens jou normaal.

Daar is geen taal of tyding
van jou my winterkind
die naderende skeiding
waar ons onsself bevind.